Verhoudings

Verhoudings deur Riekert Botha gaan oor die belangrikste ding in die lewe –  Riekert skryf dit is die “kern” van die lewe. Dit gaan oor alle verhoudings: hoe om teenoor mense op te tree wat skade aan my berokken het, diegene wat van my verskil, hulle wat die oorsaak van gebroke verhoudings is. Riekert sê verhoudings is moontlik want ons is gemaak na God se beeld en daarom waardevol in sy oë.

Die boek het twee dele: die eerste deel handel oor verhoudings in die algemeen en die tweede oor persoonlike verhoudings.

In die eerste deel skryf Riekert dat verhoudings ons menswees bepaal. En soos in alles meet hy dit aan God se Woord wat sê ons moet ons naaste liefhê. Verhoudings is God se prioriteit.

Riekert laat ons met ander oë na onsself kyk wanneer hy soos 'n sjirurg met sy pen as skalpel die probleme van verhoudings ontleed, en ons skuldig staan met ons tekortkomings.

En tog, soms is daar ʼn vonkel in sy oë soos wanneer hy van die verkeerskonstabel en nagmaal vertel. Die kostelike beskrywing van sy date-ervaring  en sy vrou se onwillekeurige wenkbrou sal jou laat skaterlag. Jy sal soms ʼn stille traan wegvee, maar jy sal Verhoudings nie kan neersit nie, en weer en weer teruggaan om die lewenslesse daaruit te lees.

Verhoudings is ʼn moet vir almal wat in ʼn verhouding staan, oud of jonk.
 

Plaas kommentaar