Seisoene van Seks

Leandie Buys

Leandie Buys se boek, "Seisoene van Seks" is so welkom soos 'n koel briesie op 'n versengende warm dag.  In 'n tyd waar baie mense reken dat niemand hulle iets oor seks kan leer nie en ander weer te skaam is om te erken dat hulle eintlik niks van seks verstaan nie, is dit verfrissend om ’n boek te lees wat reguit, ondubbelsinnig, op die man en vrou af met mense oor seks gesels.

Dis egter nie sommer sulke oppervlakkige en vervelige lesings oor seks soos mens in skole en universiteite en sommige geestelike seminare hoor nie.  Haar boek sny die “geheime” aspekte van seks aan – daardie dinge waaroor talle mense in verhoudings nooit praat nie, dié dinge wat so seer is dat ’n mens nie eers aan jouself wil erken dat jy vrae daaroor het nie.

Premature ejakulasie;  lae of geen seksdrang (by vrouens én mans!);  die seer van onvrugbaarheid en die pynlike effek daarvan op verhoudings;  ontrouheid;  seksuele drange van ouer persone, die onvermoë om ’n orgasme te ervaar – dit alles word op ’n sensitiewe, eerlike manier bespreek en praktiese wenke hoe om die dinge te oorkom, word aan die hand gedoen.

Wat die boek egter uniek maak, is die stories van persone wat met hierdie sake worstel.  ’n Mens sluk swaar as jy die skreiende seer van ’n vrou aanvoel wat sukkel om swanger te raak.  Jy word meegesleur in die aangrypende vertelling van ’n egpaar se pogings om tog net ’n kind van hulle eie te hê.  Jy ervaar die verleentheid van ’n man wat nie kan presteer as dit by die slaapkamer kom nie.  Jy besef watter effek die onvermoë om seks te geniet op ’n paartjie se hele verhouding het – hoedat geestelike sowel as liggaamlike intimiteit in die slag bly.

Die stories, seer verhale van regte mense soos ek en jy, gee aan die boek ’n dimensie van geloofwaardigheid.  Dit bring ook op ’n vreemde manier ’n stuk verligting vir die leser:  as ander gewone, goeie, normale mense met hierdie dinge worstel en uiteindelik gehelp word, dan is ek mos nie so abnormaal nie! 

Alhoewel die mense wat hulle storie met die leser deel, sê identiteit beskerm word, slaag die vertellings daarin om ’n mens te laat besef dat hierdie dinge nie sommer deur ’n skrywer uitgedink is nie.  Die bondige, praktiese en ter saaklike inligting wat dan telkens ná elke storie deur die seksterapeut gegee word, sal vir talle mense hoop, moed en oplossings bied.

Hierdie boek is nie net ’n moet vir elke persoon of paar wat met seksuele probleme worstel nie.  Dit behoort deur elke verliefde, verloofde en getroude paartjie gelees te word.  Dit behoort ’n verpligte deel van skole en opleidingsinstellings se kurrikulum uit te maak.  Dominees behoort dit met hulle jongmense te bespreek en ouer mense behoort dit saam met die Bybel op hulle bedkassie te hê!  Ons almal moet op ’n positiewe, deernisvolle manier bevry word van ons seksuele wanpersepsies.  Ons almal moet opnuut met dankbaarheid besef dat ons seksualiteit ’n wonderlike deel van ons menswees is.
 

Plaas kommentaar