Leer meer oor geldsake

Leer meer oor geldsake
Subtitel: 
RSG gesprekke oor die basiese beginsels van jou geldsake
ISBN: 
978-0-620-44917-5
Prys: 
R 135.00

EK is 'n gebruiker van geld en finansiële dienste soos enige ander mens in Suid-Afrika. As n aandele portefeuljebestuurder op die JSE het ek na die skerp val in wêreldwye aandelemarkte in 1998 ervaar hoe ons in stygende markte ons deur die gesmous van finansiële produkte soos polisse, aandele en eiendom laat insuig en in ons gierigheid onsself in skuld dompel om dan in die prys bodem ons deur ons vrees laat uitspoeg met niks om daarvoor te wys nie. Ek het in my middel veertigs ervaar dat ek met ’n finansiële "plakkerskamp" van polisse, annuïteite, aandele, eiendom en skuld gesit het, sonder dat daar ’n beplande finansiële "aftreehuis" was.

Toe moes ek die "plakkerskamp" afbreek, "sinkplate" reguit buig, "bakstene" skoonskraap en met tweedehandse materiaal ’n nuwe "aftreehuis" begin bou. Gou het ek besef dat hierdie aftreehuis baie groter, geriefliker, luukser en met ’n mooier uitsig sou gewees het, as ek ’n beplande geduldige finansiële lewenswyse gevolg het. Ek sou baie meer finansieel suksesvol kon gewees het, as ek soos die geduldige skilpad maar net vorentoe beweeg het na die doelwit toe en nie soos die gierige haas agter alles wat blink van die pad af aangejaag het en uit vrees vir elke slag weer reëlreg in die ander rigting gespring het nie. Geen wonder die skilpad wen altyd die haas nie.

Hierdie boek het ten doel om my praatjies op RSG se programme Geldsake en Ons & Ekonomie oor die jare te orden ten opsigte van my ervaring as 'n gebruiker van geld.

Ek verwys na elke mense se verantwoordelikheid om finansiële beplanning as ’n lewenswyse te aanvaar en nie aan ’n versekeringsmaatskappy, bank of hul verkoopsmense te abdikeer nie. Hoe beplan en "bou" mens jou geldsake-huis? Hoe kies jy die geldsake kundiges wat jy nodig het om as gidse jou geldelike lewenspad saam met jou te loop? Waar kom geld en die groei van geld vandaan? Waaruit bestaan finansiële produkte en hoe is dit saamgestel? Wat is bate-klasse en bate toedeling en hoekom is dit nodig? Hoe vergelyk mens aandele met eiendom met geldmark? Is skommeling van geldsake werklik risiko? Hoekom weet ek so min van geldsake?

Ek probeer om hierdie vrae te beantwoord soos watek dit vir myself beantwoord het en wat tot sukses gelei het. Elke mens kan dit verstaan.
 

Plaas kommentaar